‘Begin van nuwe era in die behandeling van hartritme-defekte’

“Die begin van ‘n nuwe era in die behandeling van hartritme-defekte.” Só beskryf dr Razeen Gopal, internasionaal gerekende elektrofisioloog van Kaapstad, die nuutste metode om hartritme-defekte te behandel. Hy vertel hoe die eerste groep pasiënte met atriale fibrillasie wat op die Afrika-kontinent met elektroporasie oftewel pulsveld-ablasie behandel is, gevaar het in vergelyking met die bestaande aanvaarde metodes.

Stel jou voor jy kan met elektriese geweer skote skiet wat net rooi tref in ‘n bont trui, en geel, groen, blou of enige ander kleur mis.

Dit is wat nou binne-in jou hart gebeur met elektriese pulse van 2000 Volt wat blitsig en akkuraat gevuur word: net hartspierselle word beskadig sodat foutiewe elektriese impulse wat jou hart te vinnig laat klop, gestuit kan word. Geen senuselle, slukdermselle, bloedvatselle of enige ander selle word beskadig nie, wat beteken dat die pasiënt geen pyn het na die prosedure nie. Die pulse is kardio-selektief. Die prosedure is ook veiliger as ander prosedures omdat die prosedure vinnig gedoen kan word en baie min tyd (20 tot 40 minute) in die linker ontvangkamer nodig is.

Volgens dr Gopal is die uitkomste met die eerste generasie van dié nuwe behandeling net so goed of beter as met radiofrekwensie- of krio-ablasie, en voorspel dit baie goeie dinge vir die toekoms vir die behandeling van hartritme-stoornisse. Indien atriale fibrillasie, die algemeenste hartritme-stoornis onder mense ouer as 60 jaar, nie behandel word nie, verhoog die pasiënt se risiko vir beroerte.

Luister hier na die volledige program:

Die video verduidelik hoe die nuwe metode werk:

https://www.bostonscientific.com/en-US/products/catheters–ablation/farapulse.html

 

https://www.rsgplus.org/eerste-in-afrika-hartritme-defek-met-nuwe-tegnologie-behandel/

https://www.rsgplus.org/skielike-kardiale-dood-veel-eerder-die-gevolg-van-hartritme-defek-as-van-hartaanval/

https://www.rsgplus.org/slaapapnee-beskadig-jou-hart/

Belangrik: Die inligting op hierdie webwerf is algemeen van aard en is nie ’n plaasvervanger vir persoonlike mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou dokter oor jou eie gesondheid.

Deel hierdie artikel

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Lees verder

Meer artikels

Terugblik 1

Ons kyk terug op die belangrikste gesondheidsprogramme van 2025.